SPOTIFY BEPALINGS VAN GEBRUIK

  1. Inleiding

  2. Die Spotify-diens wat deur ons gelewer word.

  3. Jou gebruik van die Spotify-diens

  4. Inhoud en intellektuele eiendomsregte

  5. Kliëntesteundiens, inligting, vrae en klagtes

  6. Probleme en geskille

  7. Meer oor hierdie bepalings

1. Inleiding

Lees asseblief hierdie bepalings van gebruik (hierdie "bepalings") noukeurig deur aangesien dit jou gebruik van (insluitend toegang tot) Spotify se gepersonaliseerde dienste vir die stroming van musiek en ander inhoud reguleer, insluitend al ons webwerwe en sagtewaretoepassings wat in hierdie bepalings (gesamentlik die "Spotify-diens") opgeneem is en skakels daarheen bevat, en enige musiek, video's, podsendings of ander materiaal wat deur die Spotify-diens (die "inhoud") beskikbaar gestel word.

Die gebruik van die Spotify-diens kan onderworpe wees aan addisionele bepalings en voorwaardes wat deur Spotify neergelê word, en word deur hierdie verwysing in hierdie bepalings opgeneem.

Deur vir die Spotify-diens te registreer of dit andersins te gebruik, stem jy in tot hierdie bepalings. As jy nie tot hierdie bepalings instem nie, moet jy nie die Spotify-diens gebruik of toegang tot enige inhoud verkry nie.

Diensverskaffer

Hierdie bepalings geld tussen jou en Spotify AB, Regeringsgatan 19, 111 53, Stockholm, Swede.

Ouderdom en kwalifiserende vereistes

Om die Spotify-diens te gebruik en toegang tot enige inhoud te verkry, moet jy (1) 13 jaar oud (of die gelykwaardige minimum ouderdom in jou tuisland) of ouer wees, (2) toestemming van 'n ouer of voog hê as jy 'n minderjarige in jou tuisland is, (3) die bevoegdheid hê om 'n bindende kontrak met ons aan te gaan en nie deur enige toepaslike wetgewing belet word om dit te doen nie, en (4) in 'n land woon waar die Spotify-diens beskikbaar is. Jy gee ook jou woord dat enige registrasie-inligting wat jy aan Spotify voorsien, waar, akkuraat en volledig is en jy stem in om dit te alle tye so te hou. As jy 'n minderjarige in jou tuisland is, sal jou ouer of voog hierdie bepalings namens jou moet aangaan. Jy kan tydens die registrasieproses addisionele inligting oor die minimum ouderdomsvereistes kry. As jy nie aan die minimum ouderdomsvereistes voldoen nie, sal Spotify jou nie as 'n gebruiker kan registreer nie.

2. Die Spotify-diens wat deur ons gelewer word.

Spotify-diensopsies

Ons bied verskeie Spotify-diensopsies. Sekere Spotify-diensopsies word kosteloos aangebied, terwyl daar vir ander opsies betaal moet word voordat toegang daartoe verkry word (die "betaalde intekenings"). Ons kan ook spesiale promosionele planne, lidmaatskappe of dienste aanbied, insluitend aanbiedings vir produkte en dienste van derde partye. Ons is nie verantwoordelik vir die produkte en dienste wat deur sodanige derde partye verskaf word nie.

Die onbeperkte diens is dalk nie aan alle gebruikers beskikbaar nie. Ons sal verduidelik watter dienste aan jou beskikbaar is wanneer jy vir die dienste registreer. As jy jou intekening op die onbeperkte diens kanselleer of as jou intekening op die onbeperkte diens onderbreek word (as jy byvoorbeeld jou betalingsbesonderhede verander), sal jy moontlik nie weer op die onbeperkte diens kan inteken nie. Let daarop dat die onbeperkte diens in die toekoms beëindig kan word, in welke geval jy nie meer vir die diens gefaktureer sal word nie.

Proeflopies

Ons of ander namens ons kan van tyd tot tyd proeflopies van betaalde intekenings vir 'n gespesifiseerde tydperk sonder betaling of teen 'n verlaagde tarief aanbied ('n "proeflopie"). Deur 'n Spotify-diens via 'n proeflopie te gebruik, stem jy in tot die Spotify Premium Promotional Offer Terms.

Derdeparty-toepassings, toestelle en ope-oorsprongsagteware

Die Spotify-diens kan geïntegreer word met, of kan andersins wisselwerk met, derdeparty-toepassings, -webwerwe en -dienste ("derdeparty-toepassings") en persoonlike rekenaars, mobiele handstukke, tablette, draagbare toestelle, luidsprekers en ander toestelle van derde partye ("toestelle"). Jou gebruik van sulke derdeparty-toepassings en toestelle kan onderworpe wees aan addisionele bepalings, voorwaardes en beleide wat deur die betrokke derde party aan jou voorsien word. Spotify waarborg nie dat derdeparty-toepassings en toestelle met die Spotify-diens versoenbaar sal wees nie.

Diensbeperkings en -wysigings

Ons pas redelike sorg en vaardigheid toe om die Spotify-diens operasioneel te hou en om jou van 'n gepersonaliseerde, verdiepende klankervaring te voorsien. Ons diensaanbiedinge en die beskikbaarheid daarvan kan egter van tyd tot tyd en onderworpe aan toepaslike wetgewing verander, sonder aanspreeklikheid teenoor jou; byvoorbeeld:

  • Die Spotify-dienste kan as gevolg van tegniese probleme, instandhouding of toetsing of opdaterings tydelike onderbrekings ondervind, insluitend dié wat vereis word om veranderings in betrokke wetgewing en regulatoriese vereistes te weerspieël.
  • Ons poog om ons dienste voortdurend te ontwikkel en te verbeter en ons kan die lewering van die hele of 'n deel van die Spotify-diens (insluitend bepaalde funksies, kenmerke, intekeningsplanne en promosionele aanbiedinge) wysig, opskort of staak (permanent of tydelik).
  • Spotify staan onder geen verpligting om enige spesifieke inhoud deur middel van die Spotify-diens te voorsien nie, en Spotify of die toepaslike eienaars kan bepaalde liedjies, video's, podsendings en ander inhoud sonder kennisgewing verwyder.

As jy vooruit direk aan Spotify gelde betaal het vir 'n betaalde intekening wat Spotify vóór die einde van jou vooruitbetaalde tydperk (soos die term in die artikel "Betalings en kansellasies" hieronder omskryf word) beëindig, sal Spotify die vooruitbetaalde gelde vir die vooruitbetaalde tydperk vir enige ongebruikte deel van jou dan huidige betaalde intekening ná sodanige beëindiging aan jou terugbetaal. Inligting oor jou rekening en fakturering moet op datum wees om ons in staat te stel om jou terug te betaal.

Spotify het geen aanspreeklikheid teenoor jou of staan onder geen verpligting om jou terug te betaal vir onderbrekings of gebreke in die internet of ander dienste wat veroorsaak word deur die handelinge van regeringsowerhede, ander derde partye of gebeure buite ons beheer nie.

3. Jou gebruik van die Spotify-diens

Skep 'n Spotify-rekening

Dit kan nodig wees om 'n Spotify-rekening te skep om die hele of 'n deel van die Spotify-diens te gebruik. Jou gebruikersnaam en wagwoord is slegs vir jou persoonlike gebruik en moet vertroulik gehou word. Jy verstaan dat jy verantwoordelik is vir alle gebruike (insluitend enige ongemagtigde gebruik) van jou gebruikersnaam en wagwoord. Stel onmiddellik ons kliëntesteundiensspan in kennis as jou gebruikersnaam of wagwoord wegraak of gesteel word of as jy vermoed dat daar ongematigde toegang tot jou rekening was.

Spotify kan om enige rede jou gebruikersnaam terugeis of vereis dat jy dit verander.

Jou regte om die Spotify-diens te gebruik

Toegang tot die Spotify-dienste

Onderworpe aan jou nakoming van hierdie bepalings (insluitend enige ander toepaslike bepalings en voorwaardes), verleen ons aan jou beperkte, nie-eksklusiewe, herroepbare toestemming om persoonlike, niekommersiële gebruik van die Spotify-diens en die inhoud te maak (gesamentlik, "toegang"). Hierdie toegang bly van krag tensy en totdat dit deur jou of Spotify beëindig word. Jy stem in dat jy nie die Spotify-diens of die inhoud sal herversprei of oordra nie.

Die Spotify-sagtewaretoepassings en die inhoud is gelisensieer, met ander woorde dit is nie aan jou verkoop of oorgedra nie, en Spotify en sy lisensieverleners behou eienaarskap van alle weergawes van die Spotify-sagtewaretoepassings en -inhoud, selfs nadat dit op jou toestelle geïnstalleer is.

Spotify se eiendomsregte

Die Spotify-diens en die inhoud is die eiendom van Spotify of Spotify se lisensieverleners. Al Spotify se handelsmerke, diensmerke, handelsname, logo's, domeinname en enige ander kenmerke van die Spotify-handelsmerk ("Spotify-handelsmerkkenmerke") is die alleeneiendom van Spotify of sy lisensieverleners. Hierdie bepalings ken nie enige regte aan jou toe om enige Spotify-handelsmerkkenmerke te gebruik nie, hetsy vir kommersiële of niekommersiële gebruik.

Jy stem in om aan die Spotify User Guidelines te voldoen en om nie die Spotify-diens, die inhoud of enige deel daarvan op enige wyse te gebruik wat nie uitdruklik deur hierdie bepalings toegelaat word nie.

Betalings en kansellasie

Fakturering

Jy kan 'n betaalde intekening direk vanaf Spotify of deur 'n derde party koop deur óf:

  • vooruit op 'n maandelikse basis intekengeld te betaal of volgens 'n ander herhalende tydsverloop wat voor jou aankoop aan jou bekendgemaak word; óf
  • vooruit te betaal om vir 'n spesifieke tydperk vir jou toegang tot die Spotify-diens te gee ("vooruitbetaalde tydperk").

Belastingkoerse word bereken op grond van die inligting wat jy verskaf en die toepaslike koers ten tye van jou maandelikse heffing.

As jy deur 'n derde party toegang tot 'n betaalde intekening koop, kan afsonderlike bepalings en voorwaardes met sodanige derde party op jou gebruik van die Spotify-diens van toepassing wees, benewens hierdie bepalings. As jy 'n betaalde intekening koop met 'n kode, geskenkkaart, vooruitbetaalde aanbod of ander aanbod wat deur of namens Spotify vir toegang tot 'n betaalde intekening ("kodes") voorsien of verkoop word, stem jy hiermee in tot Spotify se Card Terms.

Veranderinge in prys en belasting

Spotify kan van tyd tot tyd die prys vir die betaalde intekenings verander, insluitend herhalende intekengelde, die vooruitbetaalde tydperk (vir tydperke wat nog nie betaal is nie) of kodes (hierbo omskryf), en sal vooraf met redelike kennisgewing enige prysveranderings aan jou meedeel. Prysveranderings tree in werking aan die begin van die volgende intekeningstydperk wat volg op die datum van die prysverandering. Jy aanvaar, onderworpe aan toepaslike wetgewing, die nuwe prys deur voort te gaan om die Spotify-diens te gebruik nadat die prysverandering in werking getree het. As jy nie tot 'n prysverandering instem nie, kan jy die verandering weier deur by die betrokke betaalde intekening uit te teken voordat die prysverandering in werking tree.

Belastingkoerse is gegrond op die koerse van toepassing ten tye van jou maandelikse heffing. Hierdie bedrae kan mettertyd met plaaslike belastingvereistes in jou land, staat, gebied of selfs stad verander. Enige verandering in die belastingkoers sal outomaties toegepas word volgens die rekeninginligting wat jy verskaf

Hernuwing en kansellasie

Met die uitsondering van betaalde intekeninge vir 'n vooruitbetaalde tydperk, sal jou betaling aan Spotify of die derde party deur wie jy die betaalde intekening gekoop het, outomaties aan die einde van die toepaslike intekeningstydperk hernu word, tensy jy jou betaalde intekening voor die einde van die dan huidige intekeningstydperk kanselleer. Kontak ons kliëntesteundiensspan hier vir instruksies oor hoe om te kanselleer. Die kansellasie tree in werking op die dag na die laaste dag van die huidige intekeningstydperk en jy sal na die gratis weergawe van die Spotify-diens afgegradeer word. Ons gee nie terugbetalings of krediete vir enige gedeeltelike intekeningstydperke nie, behalwe waar dit uitdruklik in hierdie bepalings gemeld word.

As jy 'n betaalde intekening met die gebruik van 'n kode gekoop het, sal jou intekening outomaties eindig aan die einde van die tydperk wat in die kode gemeld word, of wanneer daar 'n onvoldoende vooruitbetaalde saldo is om vir die Spotify-diens te betaal.

Reg op onttrekking

As jy vir 'n proeflopie registreer, stem jy in dat die reg op onttrekking vir die betaalde intekening waarvoor jy 'n proeflopie ontvang, veertien (14) dae nadat jy die proeflopie begin, eindig. As jy nie die betaalde intekening kanselleer voordat die proeflopie eindig nie, verloor jy jou reg op onttrekking en magtig jy Spotify om elke maand outomaties die ooreengekome prys van jou te hef totdat jy die betaalde intekening kanselleer. Vir proeflopies van minder as veertien (14) dae, stem jy uitdruklik in dat ons onmiddellik ná afloop van jou proeflopie die betaalde diens aan jou kan lewer en dat jy van daardie tydstip af jou reg op onttrekking verloor.

As jy 'n betaalde intekening sonder 'n proeflopie koop, stem jy in dat jy veertien (14) dae ná jou aankoop om enige rede kan onttrek en dat jy ons moet betaal vir die dienste wat gelewer is tot en met jy ons vertel dat jy van plan verander het. . Jy stem uitdruklik in dat ons die diens onmiddellik na jou aankoop aan jou mag lewer en dat jy jou reg op onttrekking verloor, en jy magtig Spotify om jou elke maand outomaties te faktureer totdat jy kanselleer.

Gebruikersriglyne

Ons het riglyne vir die gebruik van die Spotify-diens opgestel om seker te maak dat die Spotify-diens vir almal aangenaam bly ("Spotify-gebruikersriglyne"). Met die gebruik van die Spotify-diens, moet jy voldoen aan die Spotify User Guidelines, asook alle toepaslike wette, reëls en regulasies, en jy moet die intellektuele eiendom, privaatheid en ander regte van derde partye respekteer.

Handelsmerkrekeninge

As jy namens 'n maatskappy, organisasie, entiteit of handelsmerk ('n "handelsmerk," en sodanige rekening 'n "handelsmerkrekening") 'n Spotify-rekening opstel, is die terme "jy" en "jou" wat in hierdie bepalings gebruik word (insluitend ander Spotify-bepalings en -voorwaardes wat by verwysing hierin opgeneem is), op jou sowel as die handelsmerk van toepassing.

As jy 'n handelsmerkrekening opstel, vertoog en waarborg jy dat jy gemagtig is om alle toestemmings en lisensies wat in hierdie bepalings verskaf word (insluitend enige ander toepaslike Spotify-bepalings en -voorwaardes), toe te staan en om die handelsmerk aan hierdie bepalings te verbind.

'n Handelsmerk kan gebruikers volg en speellyste maak en deel, met dien verstande dat die handelsmerk geen aksie neem wat 'n onderskrywing of kommersiële verhouding tussen die handelsmerk en die gebruiker, kunstenaar, liedjieskrywer of enige ander persoon wat gevolg word, impliseer nie, tensy die handelsmerk onafhanklik die regte verkry het om so 'n onderskrywing te impliseer. Daarbenewens moet handelsmerke deursigtig teenoor ons gebruikers wees oor die bekendmaking van enige onderskrywings of vergoeding wat aan kunstenaars, liedjieskrywers, gebruikers of enige ander party verskaf word, en moet hulle voldoen aan alle toepaslike wette, regulasies en praktykskodes wanneer hulle die voorgemelde praktyke beoefen.

Uitvoerbeheer en sanksies

Spotify se produkte kan onderworpe wees aan Amerikaanse uitvoer- en heruitvoerbeheerwette en -regulasies of soortgelyke wette wat in ander regsgebiede geld, insluitend die Export Administration Regulations ("EAR") wat deur die Amerikaanse departement van handel gehandhaaf word, handels- en ekonomiese sanksies wat deur die departement van tesourie se kantoor vir buitelandse batebeheer ("OFAC") gehandhaaf word, en die International Traffic in Arms Regulations ("ITAR") wat deur die staatsdepartement gehandhaaf word. Jy waarborg dat jy (1) nie in enige land is waar die Verenigde State 'n verbod op goedere geplaas het of enige ekonomiese sanksies opgelê het nie; en (2) nie 'n geweierde party is nie, soos bepaal in enige toepaslike uitvoer- of heruitvoerwette of -regulasies of soortgelyke wette wat in ander regsgebiede geld of andersins op enige lys van die Amerikaanse regering as 'n verbode of beperkte party verskyn nie.

Jy stem in om te voldoen aan alle toepaslike uitvoer- en heruitvoerbeheerwette en -regulasies, insluitend sonder beperking die EAR en handels- en ekonomiese sanksies wat deur OFAC gehandhaaf word. Jy stem spesifiek in om nie – direk of indirek – enige produkte, sagteware of tegnologie (insluitend produkte afkomstig van of gegrond op sodanige tegnologie) wat ingevolge hierdie bepalings van Spotify ontvang is, te gebruik, verkoop, uit te voer, weer uit te voer, oor te dra, herlei, vry te stel of andersins mee weg te doen aan enige bestemming, entiteit of persoon of vir enige eindgebruik wat verbied word deur EAR, handels- en ekonomiese sanksies wat deur OFAC gehandhaaf word, of enige toepaslike wette of regulasies van die Verenigde State of enige ander regsgebied nie, sonder om die nodige voorafmagtiging van die bevoegde regeringsowerhede te verkry wat deur daardie wette en regulasies vereis word.

4. Inhoud en intellektuele eiendomsregte

Gebruikersinhoud

Die inhoud wat jy op die diens plaas

Spotify-gebruikers kan inhoud op die Spotify-diens plaas, daarheen oplaai of andersins daartoe bydra ("gebruikersinhoud"). Om twyfel uit te skakel, sluit "gebruikersinhoud" alle inligting, materiaal en ander inhoud in wat deur gebruikers by die Spotify-diens (insluitend die Spotify Support Community) gevoeg word, daarin gemaak word, daarheen opgelaai word, daarby ingedien word of daarop geplaas word.

Jy is alleen verantwoordelik vir alle gebruikersinhoud wat jy plaas.

Met betrekking tot enige gebruikersinhoud wat jy op Spotify plaas, gee jy jou woord dat, (1) jy sodanige gebruikersinhoud besit of die reg het om dit te plaas; (2) sodanige gebruikersinhoud, of Spotify se gebruik daarvan ingevolge die onderstaande toegestane lisensie: (i) nie hierdie bepalings, toepaslike wetgewing of die intellektuele eiendoms- of ander regte van enige derde party oortree nie; of (ii) nie enige affiliasie met of onderskrywing van jou of jou gebruikersinhoud deur Spotify of enige kunstenaar, musiekgroep, etiket of ander individu of entiteit sonder die uitdruklike, skriftelike vooraftoestemming van Spotify of sodanige individu of entiteit impliseer nie.

Wanneer gebruikersinhoud of ander inligting op die Spotify-diens geplaas of gedeel word, hou asseblief in gedagte dat inhoud en ander inligting openlik toeganklik sal wees en deur ander op die Spotify-diens en regoor die web gebruik en weer gedeel kan word; wees dus versigtig wanneer jy op die Spotify-diens plaas of deel, en wees gedagtig op jou rekeninginstellings. Spotify is nie verantwoordelik vir wat jy of ander op die Spotify-diens plaas of deel nie.

Monitering van gebruikersinhoud

Spotify kan, maar staan onder geen verpligting nie, om gebruikersinhoud te monitor of te hersien. Spotify behou die reg voor om toegang tot enige gebruikersinhoud om enige rede of om geen rede nie te verwyder of te deaktiveer. Spotify kan hierdie aksies onder voorafkennisgewing aan jou neem.

**Lisensies wat jy aan ons toestaan **

Gebruikersinhoud

Jy behou eienaarskap van jou gebruikersinhoud wanneer jy op die diens plaas. Om ons in staat te stel om jou gebruikersinhoud op die Spotify-diens beskikbaar te stel, benodig ons egter van jou 'n beperkte lisensie vir daardie gebruikersinhoud. Gevolglik staan jy hiermee aan Spotify 'n nie-eksklusiewe, oordraagbare, sub-lisensieerbare, tantieme-vrye, ten volle betaalde, onherroeplike, wêreldwye lisensie toe om enige sodanige gebruikersinhoud deur enige medium, hetsy alleen of in kombinasie met ander inhoud of materiaal, op enige wyse en met elke moontlike middel, metode of tegnologie, hetsy nou bekend of hierna geskep, in verband met die Spotify-diens te reproduseer, beskikbaar te stel, uit te voer en te vertoon, te vertaal, te wysig, afgeleide werke daarvan te skep, te versprei en andersins te gebruik. Waar toepaslik en in die mate dat dit ingevolge toepaslike wetgewing toegelaat word, stem jy ook in om van enige "morele regte" of gelykwaardige regte afstand te doen en dit nie af te dwing nie, soos jou reg om as die outeur van enige gebruikersinhoud, insluitend terugvoer, geïdentifiseer te word en jou reg om beswaar te maak teen die benadelende hantering van sodanige gebruikersinhoud.

Terugvoer

As jy idees, voorstelle of ander terugvoer verskaf in verband met jou gebruik van die Spotify-diens of enige inhoud ("terugvoer") verskaf, is sodanige terugvoer nie vertroulik nie en kan dit sonder beperking en sonder betaling aan jou deur Spotify gebruik word. Terugvoer word onder hierdie bepalings as 'n tipe gebruikersinhoud beskou.

Jou toestel.

Jy staan ook aan ons die reg toe (1) om die Spotify-diens toe te laat om die verwerker, bandwydte en bergingshardeware op jou toestel te gebruik om die bedryf van die Spotify-diens te fasiliteer, (2) om reklame en ander inligting aan jou te verskaf, en om ons sakevennote toe te laat om dieselfde te doen, soos toegelaat ingevolge die Spotify Privacy Policy.

Ervaring met inhoud

Die inhoud waartoe jy toegang verkry, insluitend die seleksie en plasing daarvan, kan in enige deel van die Spotify-diens deur kommersiële oorwegings beïnvloed word, insluitend Spotify se ooreenkomste met derde partye.

Van die inhoud wat gelisensieer word deur, verskaf word aan, geskep word deur of andersins beskikbaar gestel word deur Spotify (bv. podsendings), kan reklame insluit en Spotify is nie vir enige sodanige reklame verantwoordelik nie.

Eise vir skending

Spotify respekteer die regte van eienaars van intellektuele eiendom. As jy voel dat enige inhoud 'n skending van jou reg op kopieregte uitmaak, verwys asseblief na die Spotify Copyright Policy.

5. Kliëntesteundiens, inligting, vrae en klagtes

Spotify-steundiensgemeenskap

Die Spotify Support Community is 'n plek vir gesprekvoering en die uitruil van inligting, wenke en ander materiaal wat met die Spotify-diens verband hou. Deur die Spotify-steundiensgemeenskap te gebruik, stem jy in tot die Community Terms.

Kliëntesteundiens, inligting, vrae en klagtes

Vir 'n kliëntesteundiens ten opsigte van rekening- en betalingsverwante vrae ("kliëntesteundiensnavrae"), gebruik asseblief die hulpbronne van die kliëntesteundiens onder die afdeling About Us op ons webwerf.

As jy enige vrae oor die Spotify-diens of hierdie bepalings het (insluitend enige addisionele Spotify-bepalings en voorwaardes wat hierin opgeneem is), kontak asseblief die Spotify-kliëntesteundiens deur die "About Us"-afdeling op ons webwerf te besoek.

As jy in die Europese Unie woonagtig is, kan jy ook 'n klagte indien op die aanlyn platform vir alternatiewe geskilbeslegting (ODR-platform). Die ODR-platform is op die volgende skakel beskikbaar: https://ec.europa.eu/consumers/odr.

6. Probleme en geskille

Opskorting en beëindiging van die Spotify-dienste

Hierdie bepalings sal op jou van toepassing bly totdat dit óf deur jou óf deur Spotify beëindig word. Spotify kan te eniger tyd hierdie bepalings beëindig (insluitend enige addisionele bepalings en voorwaardes wat hierin opgeneem is) of jou toegang tot die Spotify-diens opskort as ons glo dat jy enige van hierdie bepalings oortree het, as ons die lewering van die Spotify-diens of enige wesentlike komponent daarvan met redelike kennisgewing aan jou staak, of as ons glo dis nodig om aan toepaslike wetgewing te voldoen. As jy of Spotify hierdie bepalings beëindig of as Spotify jou toegang tot die Spotify-diens opskort, stem jy in dat Spotify, onderworpe aan toepaslike wetgewing, geen aanspreeklikheid of verantwoordelikheid teenoor jou sal hê nie en (behalwe waar hierdie bepalings uitdruklik so bepaal) dat Spotify nie enige bedrae wat jy reeds betaal het, terug sal betaal nie. Jy kan enige tyd hierdie bepalings beëindig, in welke geval jy nie mag voortgaan om toegang tot die Spotify-diens te verkry of om dit te gebruik nie. Om uit te vind hoe om jou Spotify-rekening te beëindig, gebruik asseblief die hulpbronne van die kliëntesteundiens op ons About Us-bladsy.

Artikel 4 (Inhoud en intellektuele eiendomsregte), 3 (Jou gebruik van die Spotify-diens), 2 (Die Spotify-diens wat deur ons gelewer word), 6 (Probleme en geskille), 7 (Meer oor hierdie bepalings) hierin, asook enige ander artikels van hierdie bepalings wat óf uitdruklik of weens die aard daarvan van krag moet bly selfs nadat hierdie bepalings beëindig het, sal beëindiging deurstaan.

Vrywarings van waarborg

Spotify sal die Spotify-diens lewer met die uitoefening van redelike sorg en vaardigheid, en ingevolge enige spesifikasie van die Spotify-diens wat deur Spotify gelewer word, maar onderworpe daaraan word die Spotify-diens "voetstoots" en "soos beskikbaar" gelewer, sonder enige waarborge van enige soort, hetsy uitdruklik, geïmpliseer of statutêr. Voorts doen Spotify en alle eienaars van die inhoud afstand van enige uitdruklike, geïmpliseerde en statutêre waarborge met betrekking tot die inhoud, insluitend waarborge van bevredigende gehalte, verhandelbaarheid, geskiktheid vir 'n bepaalde doel of nie-inbreukmaking. Nie Spotify of enige eienaar van inhoud waarborg dat die Spotify-diens of -inhoud vry van indringerware of ander skadelike komponente is nie. Daarbenewens rig Spotify geen vertoë ten opsigte van, of waarborg of aanvaar hy geen verantwoordelikheid vir, enige derdeparty-toepassings (of die inhoud daarvan), gebruikersinhoud, toestelle of enige produk of diens wat op of deur die Spotify-diens of enige hipergeskakelde webwerf deur 'n derde party geadverteer, bevorder of aangebied word nie, en Spotify is nie verantwoordelik vir enige transaksies tussen jou en enige derdepartyverskaffers van die voorgemelde nie. Geen advies of inligting, hetsy mondeliks of op skrif, wat deur jou van Spotify verkry word, sal enige waarborg namens Spotify daarstel nie. Terwyl jy die Spotify-diens gebruik, kan jy toegang hê tot funksies vir die filtrering van eksplisiete inhoud, maar die gebruik van hierdie funksies kan steeds daartoe lei dat sekere eksplisiete inhoud bedien word en jy moet nie op sulke funksies staatmaak om alle eksplisiete inhoud te filtreer nie. Hierdie artikel geld tot die volste omvang toelaatbaar deur toepaslike wetgewing.

Sekere regsgebiede laat nie die uitsluiting van geïmpliseerde waarborge of beperkings op die toepaslike statutêre regte van 'n kliënt toe nie, en dus kan die uitsluiting en beperkings in hierdie artikel nie op jou van toepassing wees nie en niks sal jou statutêre regte beïnvloed nie.

Beperking van aanspreeklikheid en tyd om 'n eis in te dien

Onderworpe aan toepaslike wetgewing, stem jy in dat jou alleen- en eksklusiewe herstel vir enige probleme of ontevredenheid met die Spotify-diens, die verwydering van enige Spotify-sagteware en die staking van die gebruik van die Spotify-diens is. Jy stem in dat Spotify geen verpligting of aanspreeklikheid voortspruitend uit of ten opsigte van derdeparty-toepassings of die inhoud daarvan het wat deur of in verband met die Spotify-diens beskikbaar gestel word nie, en terwyl jou verwantskap met sodanige derdeparty-toepassings deur afsonderlike ooreenkomste met sodanige derde partye gereguleer kan wees, is jou alleen- en eksklusiewe herstel, wat Spotify aanbetref, vir enige probleme of ontevredenheid met enige derdeparty-toepassings of die inhoud daarvan, om sodanige derdeparty-toepassings te verwyder en die gebruik daarvan te staak.

Spotify, sy beamptes, aandeelhouers, werknemers, agente, direkteur, filiale, geaffilieerdes, opvolgers, regverkrygendes, verskaffers of lisensieverleners sal in geen geval aanspreeklik wees vir (1) enige indirekte, spesiale, toevallige, bestraffende, vindiktiewe of voortvloeiende skadevergoeding nie; (2) enige verlies van gebruik, data, besigheid of winste (hetsy direk of indirek) wat in alle gevalle voortspruit uit die gebruik van die Spotify-diens, toestelle, derdeparty-toepassings of die inhoud van derdeparty-toepassings, of die onvermoë om die voorgemelde te gebruik nie; of (3) totale aanspreeklikheid vir alle eise in verband met die Spotify-diens, derdeparty-toepassings of die inhoud van derdeparty-toepassings wat meer is as die groter som van (a) die bedrae wat gedurende die twaalf maande voor die eerste eis deur Spotify aan jou betaal is; of (b) $30.00 nie. Enige aanspreeklikheid wat ons wel het vir verliese wat jy ly, is streng beperk tot verliese wat redelik voorsienbaar was.

Ter verduideliking: Hierdie bepalings beperk nie Spotify se aanspreeklikheid vir bedrog, bedrieglike wanvoorstelling, die dood of persoonlike besering tot die mate waarin toepaslike wetgewing so 'n beperking sou verbied nie, en vir enige ander aanspreeklikheid wat ingevolge toepaslike wetgewing nie beperk of uitgesluit mag word nie.

Behalwe waar sodanige beperking ingevolge toepaslike wetgewing verbode is, moet enige eis wat kragtens hierdie bepalings ontstaan, 'n aanvang neem (deur 'n eis vir arbitrasie in te dien of 'n individuele aksie kragtens die onderstaande arbitrasie-ooreenkoms in te dien) binne een (1) jaar na die datum waarop die party wat die eis aanvoer, die eerste keer weet van of redelikerwys behoort te weet van die handeling, weglating of versuim wat aanleiding tot die eis gee; en daar sal geen reg op enige herstel wees vir enige eis wat nie binne dié tydperk aangevoer word nie.

Regte van derde partye

Jy erken en stem in dat die eienaars van die inhoud en sekere verspreiders (soos verskaffers van toep-winkels) die bedoelde begunstigdes van hierdie bepalings is en die reg het om hierdie bepalings direk teen jou af te dwing. Behalwe soos in hierdie artikel uiteengesit, is hierdie bepalings nie bedoel om regte aan enigiemand behalwe jou en Spotify toe te staan nie, en in geen geval sal hierdie bepalings enige regte vir 'n derde party as begunstigde skep nie.

As jy enige van ons sagtewaretoepassings (elkeen, 'n "toep") van die Apple Inc. ("Apple") toep-winkel afgelaai het of as jy die toep op 'n iOS-toestel gebruik, erken jy dat jy die volgende kennisgewing insake Apple erken, verstaan en daartoe instem. Hierdie bepalings is slegs tussen jou en Spotify, nie met Apple nie, en Apple is nie verantwoordelik vir die Spotify-diens en die inhoud daarvan nie. Apple staan onder hoegenaamd geen verpligting om enige instandhoudings- en steundienste ten opsigte van die Spotify-diens te lewer nie. Ingeval van enige versuim van die Spotify-diens om enige toepaslike waarborg na te kom, kan jy Apple in kennis stel en Apple sal die toepaslike koopprys vir die toep aan jou terugbetaal; en, tot die maksimum omvang toelaatbaar deur toepaslike wetgewing, het Apple geen ander waarborgverpligting hoegenaamd ten opsigte van die Spotify-diens nie. Apple is nie verantwoordelik om enige eise deur jou of enige derde party ten opsigte van die Spotify-diens of jou besit of gebruik van die Spotify-diens te hanteer nie, insluitend: (1) eise vir produkaanspreeklikheid; (2) enige eis dat die Spotify-diens versuim om aan enige resgeldige of regulatoriese vereiste te voldoen; (3) eise wat voortspruit uit verbruikersbeskerming- of soortgelyke wetgewing; en (4) eise ten opsigte van skending van intellektuele eiendom. Apple is nie verantwoordelik vir die ondersoek, verdediging, skikking en ontheffing van enige derdeparty se aanspraak dat die Spotify-diens of jou besit en gebruik van die toep 'n skending van daardie derde party se intellektuele eiendomsregte is nie. Jy stem in om aan enige toepaslike derdeparty-bepalings te voldoen wanneer jy die Spotify-diens gebruik. Apple en Apple se filiale is derdeparty-begunstigdes van hierdie bepalings, en deur jou aanvaarding van hierdie bepalings het Apple die reg (en word geag die reg te aanvaar) om hierdie bepalings teen jou af te dwing as 'n derdeparty-begunstigde van hierdie bepalings.

Vrywaring

Jy stem in om Spotify te vrywaar en skadeloos te stel van en teen enige redelik voorsienbare direkte verliese, skadevergoeding en redelike uitgawes (insluitend redelike prokureursgelde en -koste) wat Spotify gely of aangegaan het as gevolg van of ten opsigte van: (1) jou oortreding van enige van hierdie bepalings (insluitend enige addisionele Spotify-bepalings en -voorwaardes wat hierin opgeneem is); (2) enige gebruikersinhoud wat jy plaas of andersins bydra; (3) enige aktiwiteit waarin of waaraan jy deur die Spotify-diens deelneem; en (4) jou skending van enige wet of die regte van 'n derde party.

Heersende wetgewing, verpligte arbitrasie en ligging

6.1 Heersende wetgewing/regsgebied

Tensy verpligte wetgewing in jou land van verblyf andersins bepaal, is die ooreenkomste (en enige niekontraktuele geskille/eise wat daaruit voortspruit of daarmee verband hou) onderworpe aan die wette van die staat of land hieronder genoem, sonder inagneming van die beginsels van regskeuse of -botsings.

Voorts stem jy en Spotify in tot die regsgebied van die howe hieronder genoem om enige geskil, eis of twispunt op te los wat in verband met die ooreenkomste ontstaan (en enige niekontraktuele geskille/eise wat daaruit voortspruit of daarmee verband hou), behalwe waar jy ingevolge toepaslike, verpligte wetgewing kan kies om 'n regsgeding in jou land van verblyf aanhangig te maak of waar ons vereis word om slegs in jou land van verblyf 'n regsgeding aanhangig te maak

Land of streek Regskeuse Regsgebied
Alle ander lande en streke waar Spotify beskikbaar is. Swede Eksklusief; Howe van Swede
Bulgarye, Ciprus, Estland, Frankryk, Hongkong, Letland, Litaue, Luxemburg, Malta, Monaco, Noorweë, Filippyne, Portugal, Slowakye, Spanje, Turkye Wette van Swede Nie-eksklusief; Howe van Swede
Brasilië Wette van Brasilië Eksklusief; Staats- en Federale Howe van São Paulo, Staat van São Paulo, Brasilië
Kanada Nie van toepassing op inwoners van Quebec nie: Wette van die Provinsie van Ontario; Inwoners van Quebec: Wette van die Provinsie Quebec, Kanada Nie van toepassing op inwoners van Quebec nie: Eksklusief behalwe met die oog op die afdwinging van uitsprake; Howe van Ontario, Kanada; Inwoners van Quebec: Howe van Quebec, Kanada
Argentinië, Bolivia, Chili, Colombia, Costa Rica, die Dominikaanse Republiek, Ecuador, El Salvador, Guatemala, Honduras, Nicaragua, Panama, Paraguay, Peru, Uruguay Staat van Kalifornië, Verenigde State Eksklusief; Staats- en Federale Howe van San Francisco County, CA of New York, NY
Verenigde Koninkryk Wette van Engeland en Wallis Eksklusief

6.2 AFSTANDDOENING VAN KLAS-AKSIE

WAAR DIE TOEPASLIKE WET DIT TOELAAT, STEM JY EN SPOTIFY IN DAT ELKEEN EISE TEEN DIE ANDER MAG INSTEL SLEGS IN JOU OF SY INDIVIDUELE HOEDANIGHEID EN NIE AS 'N EISER OF KLASLID IN ENIGE BEWEERDE KLAS- OF VERTEENWOORDIGENDE AKSIE NIE. Tensy jy én Spotify instem, mag geen arbiter of regter meer as een persoon se eise konsolideer of op enige ander wyse in 'n verteenwoordigende of klas-aksie voorsit nie.

6.3 ARBITRASIE

As jy geleë is in, gebaseer is in, kantore het in of sake bedryf in 'n regsgebied waar hierdie artikel 6.3. afdwingbaar is, is die volgende verpligte arbitrasiebepalings op jou van toepassing:

6.3.1 Geskilbeslegting en arbitrasie

Jy en Spotify kom ooreen dat enige geskil, eis of twispunt tussen jou en Spotify wat ten opsigte van of enigsins in verband met hierdie ooreenkomste of uit jou verwantskap met Spotify as 'n gebruiker van die diens ontstaan (hetsy gegrond op kontrak, delik, statuut, bedrog, wanvoorstelling of enige ander regsteorie, en hetsy die eise tydens of ná die beëindiging van die ooreenkomste ontstaan), deur verpligte, bindende, individuele arbitrasie beslis sal word. Arbitrasie is meer informeel as 'n regsgeding in die hof. DAAR IS GEEN REGTER OF JURIE IN ARBITRASIE NIE, EN DIE HOFHERSIENING VAN 'N ARBITRASIETOEKENNING IS BEPERK. Daar kan meer beperkte blootlegging as in die hof wees. Die arbiter moet hierdie ooreenkoms toepas en kan dieselfde skadevergoeding en herstel as 'n hof toeken (insluitend prokureursgelde), behalwe dat die arbiter nie verklarende of verbiedende herstel mag toeken wat enigeen behalwe die partye tot die arbitrasie bevoordeel nie. Hierdie arbitrasiebepaling sal die beëindiging van die ooreenkomste deurstaan.

6.3.2 Uitsonderings

Nieteenstaande klousule 6.3.1 hierbo, stem jy en Spotify saam dat niks hierin vervat geag word om te eniger tyd 'n afstanddoening, verhindering of andersins 'n beperking van ons reg te wees om (1) 'n individuele geding in 'n hof vir klein eise aanhangig te maak nie, (2) afdwingingsaksies deur middel van toepaslike federale, staats- of plaaslike agentskappe uit te oefen waar sodanige aksies beskikbaar is nie, (3) verbiedende herstel in 'n geregshof aan te vra nie of (4) 'n saak by 'n geregshof in te dien om eise oor die skending van intellektuele eiendom aan te spreek nie.

6.3.3 Arbitrasiereëls

Óf jy óf ons kan met die arbitrasieproses begin. Enige arbitrasie tussen jou en Spotify sal finaal geskik word ingevolge die reëls van arbitrasie van die International Chamber of Commerce (die "ICC") wat dan van krag is (die "ICC-reëls") deur een of meer arbiters wat aangestel is kragtens die ICC-reëls, soos gewysig deur hierdie ooreenkomste, en sal deur die internasionale hof van arbitrasie van die ICC geadministreer word.

Enige arbitrasie sal in die Engelse taal geskied en tensy dit andersins deur 'n verpligte wet van 'n lidstaat van die Europese Unie of enige ander regsgebied vereis word, sal die wet wat in enige arbitrasie toegepas word, die wet van [die betrokke staat of land beskryf in klousule 6.1] wees, sonder inagneming van die beginsels van regskeuse of -botsing.

6.3.4 Tyd vir indiening

Enige arbitrasie moet begin met die indiening van 'n eis om arbitrasie binne EEN (1) JAAR na die datum waarop die party wat die eis aanvoer, die eerste keer weet van of redelikerwys behoort te weet van die handeling, weglating of versuim wat aanleiding tot die eis gee; en daar sal geen reg op enige herstel wees vir enige eis wat nie binne dié tydperk aangevoer word nie. Indien toepaslike wetgewing 'n een-jaar-tydperk van beperking vir die aanvoer van eise verbied, moet enige eis aangevoer word binne die kortste tydperk wat deur toepaslike wetgewing toegelaat word.

6.3.5 Kennisgewing; Proses

'n Party wat van voorneme is om arbitrasie aanhangig te maak, moet eers 'n skriftelike kennisgewing van die geskil per gesertifiseerde pos of Federal Express (handtekening vereis) na die ander party stuur, of ingeval ons nie 'n straatadres vir jou op lêer het nie, per elektroniese pos ("kennisgewing"). Spotify se adres vir kennisgewing is: [Spotify, Attn: General Counsel, 4 World Trade Center, 150 Greenwich Street, 62nd Floor, New York, New York 10007, USA]. Die kennisgewing moet (1) die aard en grondslag van die eis of geskil uiteensit; en (2) die spesifieke herstel wat verlang word, uiteensit ("eis"). Ons stem in om pogings te goeder trou aan te wend om die eis direk te skik, maar as ons nie binne 30 dae nadat die kennisgewing ontvang is 'n ooreenkoms bereik nie, kan jy of Spotify met 'n arbitrasieproses begin. Tydens die arbitrasie sal die bedrag van enige skikkingsaanbod wat deur jou of Spotify gemaak word, nie aan die arbiter bekendgemaak word tot nadat die arbiter 'n finale besluit en toekenning, indien enige, gemaak het nie. Ingeval ons geskil finaal deur arbitrasie in jou guns besleg word, sal Spotify vir jou (1) die bedrag betaal wat deur die arbiter toegeken is, indien enige, (2) die laaste skriftelike skikkingsbedrag betaal wat aangebied is deur Spotify om die geskil te skik voordat die arbiter 'n toekenning gemaak het; of (3) $1,000.00 betaal, wat ook al die hoogste bedrag is. Alle dokumente en inligting wat in die loop van die arbitrasie bekendgemaak word, sal streng vertroulik deur die ontvanger gehou word en sal nie deur die ontvanger gebruik word vir enige doel buiten vir die doeleindes van arbitrasie of die afdwinging van die arbiter se besluit en toekenning nie, en sal nie bekendgemaak word nie, behalwe in vertroue aan persone wat vir sodanige doeleindes moet weet of soos deur toepaslike wetgewing vereis. Behalwe soos nodig om die arbiter se besluit en toekenning af te dwing, sal nie jy of Spotify enige openbare aankondiging maak of openbare kommentaar lewer of enige publisiteit aangaande die arbitrasie skep nie, insluitend, maar nie beperk nie tot die feit dat die partye in 'n geskil is, die bestaan van die arbitrasie of enige besluit of toekenning van die arbiter.

6.3.6 Wysigings

Ingeval Spotify enige toekomstige verandering aan hierdie arbitrasiebepaling maak (buiten 'n verandering aan Spotify se adres vir kennisgewing), kan jy enige sodanige verandering van die hand wys deur binne 30 dae ná die verandering aan Spotify se adres vir kennisgewing, vir ons skriftelik kennis te gee, in welke geval jou rekening by Spotify onmiddellik beëindig sal word en hierdie arbitrasiebepaling wat onmiddellik van krag was vóór die wysigings wat jy van die hand wys, sal deurstaan.

6.3.7 Afdwingbaarheid

As daar bevind word dat die afstanddoening van klas-aksie onder artikel 6.2 in arbitrasie onafdwingbaar is of dat enige deel van hierdie artikel 6.3 ongeldig of onafdwingbaar is, sal hierdie artikel 6.3 in geheel ongeldig wees en in so 'n geval stem die partye ooreen dat die eksklusiewe regsgebied en ligging wat in artikel 6.1 omskryf is, enige aksie voortspruitend uit of in verband met die ooreenkomste sal reguleer en jy sal nie verhoed word om te eniger tyd verrigtinge in te stel nie.

7. Meer oor hierdie bepalings

Jy het moontlik kragtens toepaslike wetgewing sekere regte wat nie deur 'n kontrak beperk kan word nie. Hierdie bepalings het geensins ten doel om daardie regte te beperk nie.

Veranderinge

Ons kan van tyd tot tyd veranderinge aan hierdie bepalings aanbring (insluitend enige addisionele Spotify-bepalings en -voorwaardes wat by verwysing hierin opgeneem is) deur op enige redelike wyse (voor dit in werking tree) vir jou van sodanige veranderinge in kennis te stel, insluitend om 'n hersiene ooreenkoms op die betrokke Spotify-diens te plaas (met dien verstande dat, vir wesentlike veranderinge, ons sal poog om sodanige kennisgewing per e-pos, 'n in-diens-opwipboodskap of ander wyse aan te vul). Enige sodanige veranderinge sal nie van toepassing wees op enige geskil tussen jou en ons wat ontstaan het voor die datum waarop ons die hersiene bepalings of ander Spotify-bepalings en -voorwaardes waarin sodanige veranderinge opgeneem is, geplaas het nie of andersins vir jou van sodanige veranderinge in kennis gestel het nie. Jou gebruik van die Spotify-diens nadat enige veranderinge aan hierdie bepalings aangebring is, sal jou aanvaarding van sodanige veranderinge uitmaak. As jy verkies om nie langer die Spotify-diens kragtens die opgedateerde bepalings te gebruik nie, kan jy jou rekening beëindig deur met ons in verbinding te tree. Die datum van inwerkingtreding boaan hierdie dokument dui aan wanneer hierdie bepalings laas verander is.

Die volledige ooreenkoms

Buiten wat in hierdie artikel gemeld word of wat uitdruklik op skrif tussen jou en Spotify ooreengekom is, maak hierdie bepalings al die bepalings en voorwaardes uit wat tussen jou en Spotify ooreengekom is, en dit vervang enige vorige ooreenkomste met betrekking tot die inhoud van hierdie bepalings, hetsy skriftelik of mondeliks. Soos hierbo aangedui, word ander bepalings en voorwaardes wat die gebruik van die Spotify-diens reguleer, by verwysing hierin opgeneem, insluitend die volgende bepalings en voorwaardes: die Spotify Premium Promotional Offer Terms;Spotify's Card Terms; die Spotify User Guidelines; die Spotify Copyright Policy; en die Spotify Support Community Terms.

Deelbaarheid en afstanddoening

Tensy anders in hierdie bepalings vermeld, sou enige bepaling van hierdie bepalings om enige rede of in enige mate ongeldig of onafdwingbaar beskou word, sal die oorblywende bepalings van hierdie bepalings nie geraak word nie, en sal die toepassing van daardie bepaling toegepas word in die mate wat deur wetgewing toegelaat word.

Enige versuim deur Spotify of enige derdeparty-begunstigde om hierdie bepalings of enige bepaling daarvan af te dwing, sal nie afstand doen van Spotify of die toepaslike derdeparty-begunstigde se reg om dit te doen nie.

Oordrag

Spotify kan enige of al hierdie bepalings oordra, en kan enige van sy regte of verpligtinge kragtens hierdie bepalings in geheel of gedeeltelik oordra of delegeer. Jy kan nie hierdie bepalings in geheel of gedeeltelik aan enige derde party oordra nie, en ook nie jou regte kragtens hierdie bepalings aan enige derde party oordra of sub-lisensieer nie.